Die gewilde sangpaartjie het onlangs hul nuutste musiekvideo uitgereik.
En hier’s Jay en Lianie se splinternuwe musiekvideo: Vir Liefde!
Die gewilde sangpaartjie het onlangs hul nuutste musiekvideo uitgereik.
En hier’s Jay en Lianie se splinternuwe musiekvideo: Vir Liefde!
Vroeër vanjaar het ons die heel eerste voorsmakie van die gewilde duetpaartjie Jay du Plessis en Lianie May se opwindende nuwe musiekvideo gedeel. Nou kan aanhangers eindelik die volle video geniet!
Vir Liefde is van die paartjie se gelyknamige duetalbum wat onlangs die Tempo as beste pop/sokkiealbum van die jaar gewen het.
Maar, vertel Lianie, nie sy of Jay kon die geleentheid bywoon om hul trofee te ontvang nie. “Ek was op die plaas,” verduidelik dié boeremeisie. “Ons moes beeste gaan dip en kon ongelukkig nie in Johannesburg wees nie.”
Lianie vertel sy het die aand op haar ouers se plaas buite Oranjeville in die Vrystaat rondom die braaivleisvuur gesit toe sy die goeie nuus ontvang dat Vir Liefde die gesogte Tempo-toekenning gewen het.
“Die kompetisie was straf; ek het regtig nie gedink ons sal wen nie,” onthou sy die oomblik. “Tog,” voeg sy by, “die album was so goed geskryf, ek het in my binneste eintlik geweet ons gaan suksesvol daarmee wees.”
En suksesvol is die album beslis! Dit is maar ’n paar maande op winkelrakke en volgens verkope het dit reeds goudstatus bereik. Lianie vertel sy kan swel van trots.
“Die aanvraag was so groot vir nog ’n duetalbum,” sê sy. “Die kombinasie tussen ons was van die heel begin af magic.”
Haar en Jay se eerste duetalbum, 2012 se Bonnie en Clyde, was ’n wegholsukses en het dubbelplatinumstatus bereik; daarom het dit as geen verrassing gekom nie dat hul albei se platemaatskappye besluit het om weer koppe bymekaar te sit vir ’n opvolgalbum.
“Hulle het ons net op ’n dag gebel en gesê die album is klaar geskryf,” onthou Lianie. Sy en Jay kon net opdaag en die liedjies opneem. Buiten Vir Liefde dink Lianie ook Da Vat Hy is ’n besonderse gatskoptreffer; trouens, die musiekvideo daarvoor word ook eersdaags uitgereik.
Sy verklap ook dat daar reeds beplan word aan ’n derde duetalbum, maar dat sy sowel as Jay eers soloalbums later vanjaar gaan uitreik.
“My nuwe album is ’n countryalbum propvol liedjies met daardie bekende countryklank van kunstenaars soos Dolly Parton,” sê sy.
Sy noem ook, byna terloops, dat aanhangers ook kan uitsien na ’n nuwe fliekprojek waaraan sy en Jay gaan werk. “Ná die sukses van Platteland vra mense gedurig vir my wanneer maak ek weer ’n fliek, maar saam met Jay.” Nou bevestig sy dat die wiele reeds aan die rol is.
Intussen gaan die twee binnekort na Namibië reis om Vir Liefde te gaan bemark. Lianie sê sy geniet dit vreeslik om saam met Jay op te tree. “Ons is daar vir mekaar.”
Die wag is eindelik verby!
Na drie suksesvolle albums en ’n kortspeler saam met die Engelse popsensasie Daniel Baron, is die popgroep Adam terug met ’n slinternuwe album.
En asof dié nuus nie op sigself goed genoeg is nie, kan aanhangers ook nou die musiekvideo vir die titelsnit eksklusief op Huisgenoot se webwerf kyk!
Die meeste menses sal kan identifiseer met die liedjie Hoogtevrees, vertel Hugo Ludik wat dit saam met sy sangmaat Reynardt Hugo geskryf het. “Dit gaan oor ’n romantiese verhouding wat by ’n kruispad kom en jy dan wonder: wat nou?”
Die groep het twee jaar lank aan hul nuwe album gewerk en Hugo meen dit bevat net die sterkste liedjies. “Dit is ’n tipiese album in Adam se styl waaraan ons ondersteuners gewoond is. Ons het daardie fondament behou maar tog ook ’n paar nuwe klanke ingebring.”
Die album bevat 13 kookwatertreffers en sluit ook die snit Hel of Hoogwater saam met die gewilde groep Die Heuwels Fantasties in. Kan mens nou vir meer vra?
Daar is duidelik geen keer aan die gewilde duetpaartjie Jay en Lianie May nie!
Nie net het hul nuwe album, Vir Liefde, onlangs die Tempo vir pop/sokkiealbum van die jaar gewen nie; die musiekvideo vir die titelsnit is ook ’n paar weke gelede eksklusief op huisgenoot.com gedeel.
Nou is die duo terug met nog ’n prettige musiekvideo, hierdie keer vir die danstreffer Da’ Vat Hy.
“Die video gaan oor ’n tipiese verveelde poskantoorwerker wat ietwat van ’n komiese karakter is,” vertel die regisseur, Gerhard van Rooyen. Die akteur Bouwer Bosch vertolk dié rol.
“Hierdie ou het net mooi niks lus vir werk nie en maak soos hy wil mense se pos oop op soek na iets wat vir hom kan belangrik wees.”
In een van die posstukke vind hy kaartjies na ’n konsert deur Jay en Lianie. Die poskantoorwerker vertrek dan teen ’n hengse spoed na die konsert, maar natuurlik kan alles nie net voorspoedig verloop nie.
Kyk hier na alles wat Bouwer oorkom terwyl hy sukkel om by die konsert uit te kom:
Die omstrede plaaslike musiekgroep Die Antwoord het ’n nuwe musiekvideo bekendgestel en nes hul vorige video’s laat dit beslis die tonge klap.
In die video vir Banana Brain, wat Woensdag bekendgestel is, verwys die voorsangers Ninja en Yo-Landi VI$$er meer as een keer na die veroordeelde atleet Oscar Pistorius, wat op die oomblik tronkstraf uitdien vir die skietdood van sy meisie, die model Reeva Steenkamp.
Yo-Landi dra ’n blonde pruik en Ninja, wat in die video kunsbene nes Oscar dra, skiet na ’n verkeerslig – glo ’n stekie na Oscar wat in 2012 deur die sondak van sy motor ’n skoot afgevuur het. Koerantopskrifte oor die hofsaak pryk boonop teen lamppale terwyl Ninja dit doen.
Skermgreep: YouTube, Die Antwoord
Skermpgreep, YouTube, Die Antwoord
Skermgreep: YouTube, Die Antwoord
Skermgreep: YouTube, Die Antwoord
Later gooi Ninja Yo-Landi, wat net onderklere aanhet, op ’n bed en sing vir haar terwyl hy ’n speelgoedgeweer rondswaai en vlug Yo-Landi dan uit die vertrek na ’n badkamer en sluit die deur toe, terwyl hy dit probeer afbreek – steeds met die geweer in die hand.
Skermgreep: YouTube, Die Antwoord
Skermgreep: YouTube, Die Antwoord
’n Gillende Yo-Landi kyk in die spieël en nadat Ninja die deur afskop, dra hy haar en sit haar neer.
Skermgreep: YouTube, Die Antwoord
Skermgreep: YouTube, Die Antwoord
Kyk self die video en laat weet ons of jy dink Die Antwoord vat dit te ver?
Bron: YouTube
Vernon Barnard, die blinde jong man wat landwyd harte gesteel het op die plaaslike sangkompetisiereeks The Voice SA, het so pas sy debuutliedjie, I Like It That Way, en die gepaardgaande musiekvideo uitgereik.
Foto: Facebook / Vernon Barnard
Die talentvolle sanger, wat van jongs af blind is, het tydens sy oudisie die beoordelaar en sanger Bobby van Jaarsveld in trane gehad toe hy lostrek met sy sielvolle weergawe van die popgroep One Direction se trefferliedjie Story of My Life.
Dié oudisie het al meer as 8 miljoen trefslae op YouTube. Selfs die Hollywood-ster Ashton Kutcher het dit al aanlyn gedeel!
Lees ook: ‘Daai oomblik as jy sien Ashton Kutcher deel jou neef se video op Facebook’
Vernon se debuutliedjie draai om ’n meisie wat sy hart steel.
“Ek is so opgewonde om my debuutliedjie met Suid-Afrikaners te deel!” vertel hy in ’n persverklaring.
“Dié enkelsnit is ’n voelgoed liedjie en ’n goeie mengsel van aansteeklike catchy melodieë en opbeurende lirieke en ek hoop almal gaan dit geniet om na die liedjie te luister net soveel soos ek dit geniet het om dit te maak,” sê hy.
Die liedjie is in ’n dag in en om Pretoria geskiet.
Lees ook: Plaaslike petroljoggie met operastem verower harte
In die video kaap Vernon en sy band ’n uitsaaitoring en saai hulle die liedjie uit vir die res van die wêreld.
’n Meisie wat teneergedruk is hoor dit dan en dit beur haar op en sy gaan soek hulle op.
Dis net die tipe musiek wat jy nodig het op dié Vrydag!
Luister die liedjie hier:
Mens sou byna dink die gewilde sanger Pieter Koen het in ‘n wafferse Casanova verander as mens so na sy nuwe musiekvideo vir sy enkelsnit Boobs, Boude en Bene kyk.
Maar nee. “Ek is mos maar ‘n skaam en teruggetrokke ou,” vertel hy laggend. “Dit was omtrent ‘n storie om al daardie hande en bene op die regte plek te kry!”
Pieter se nuwe snit bou voort op die sukses van sy voetjeuklekker-treffers soos Skud jou Biscuit, Tattoo en 3 Susters waarvoor hy soveel bekendheid verwerf het.
Hy beskryf Boobs, Boude en Bene as ‘n country-liedjie met ‘n ligte pop-aanslag wat glo die potensiaal het om ‘n lekker saamsing-danstreffer te word. “Omdat dit juis nie ‘n swaar en ernstige liedjie is nie en die koor jou dwing om saam te sing, sal jy ook nie anders kan as om te wil dans nie,” sê hy.
Wel, besluit jy maar self! Kyk hier na die splinternuwe musiekvideo vir Pieter se treffer:
Watter Suid-Afrikaner ken nie die liedjie Nkalakatha nie? Dis al ons land se nie-amptelike volkslied gedoop omdat dit Suid-Afrikaners van alle rasse en sfere saamsnoer.
Tydens die 2010 Wêreldbeker-sokkertoernooi is dit oor-en-oor in stadions gespeel. Die man agter hierdie ongelooflike gewilde liedjie, Mandoza (oftewel Mduduzi Edmund Tshabalala) is hierdie naweek in die ouderdom van 38 oorlede ná ‘n stryd teen breinkanker.
Maar glo dit of nie, Mandoza het niks daarvan gehou om hierdie ongelooflik gewilde liedjie van hom te sing nie.
“Ek is siek vir daardie liedjie; ek is so siek om dit die heeltyd te moet sing op die verhoog,” het die kwaito-legende al in ‘n onderhoud aan IOL gesê. “Ek doen dit nou al vir elf jaar. Moenie my verkeerd verstaan nie, ek is baie dankbaar die sukses daarvan, maar ek hou nie meer daarvan om dit tydens my vertonings te sing nie.
“Mense het my al vroeg in my loopbaan in ’n boksie gepak en ek het ’n kwaito-ster geword voor ek ’n musikant was. Nkalakatha was ’n treffer, maar mense moet aanbeweeg en fokus op wat ek doen,” het hy met die uitreiking van sy album So Fresh in 2012 gesê.
Die liedjie en die gelyknamige album, sy tweede een, het by die 2001 South African Music Awards in die kategorieë vir beste kwaito-album en liedjie van die jaar gewen.
Sedertdien het hy saam met baie uiteenlopende kunstenaars saamgewerk van Danny K tot Die Heuwels Fantasties.
In 2012 het Mandoza vir Nkalakatha ’n nuwe baadjie aangetrek en selfs ’n paar Afrikaanse lirieke bygewerk vir “rugby-entoesiaste”. “Ons gaan julle slaat want ons is kwaad, ons gaan julle druk, julle sal skrik,” sing hy in hierdie nuwe weergawe.
Kort na sy afsterwe het mense omtrent in sosiale media gegons. Hier is wat sommige oor sy mees bekende liedjie te sê gehad het:
Sorry to hear about Mandoza. He was one of my most popular guests on DisHoeDitIs. #shocked.
— Steve Hofmeyr (@steve_hofmeyr) September 18, 2016
RIP @MandozaOriginal what a great guy! We had the pleasure of making music with the legend! U will be missed by all!
— Heuwels Fantasties (@DieHeuwels) September 19, 2016
No matter wht race u wr whn #Nkalakatha came on @ a wedding/party,u threw dwn some Mzansi moves lyk nvr #RIPMandoza pic.twitter.com/Nz5fIHQYWo
— #RIPMandoza (@AntoneithN) September 18, 2016
#Mandoza Rest in peace #Nkalakatha brought such joy and happy faces thinking of your family and friends
— Hotstix (@siphohotstix) September 18, 2016
Even Shaun Pollock used to walk to the crease with #Nkalakatha jamming at the stadium.
U did ur thing. #Mandoza
U in a better place.— #TlatsiMan (@BucsKopite) September 18, 2016
Het jy nog altyd gewonder wat presies Mandoza oor sing in Nkalakatha? Hierdie liedjie se lirieke is in Zoeloe en Tsotsi-taal en kan nie direk na Afrikaans vertaal word nie. Hier is Nonzima Makandela, ’n Johannesburgse taalpraktisyn, se losweg-vertaling:
Ramkat! (x9)
Oe
Ek’t gesê hy’s jaloers omdat hy neersien op Mandoza se ritme
Hy’t my gesê wat sy probleem met my is en ons het dit soos manne uitgeklaar
Daar is niks fout nie, swaer. Maar jy moet maar jy moet maar agter jou kyk
Daar is niks fout nie broer, maar wees maar op jou pasoppens
Ag wat, kom ons gaan span bietjie saam uit
Hou op met jou jaloesie.
Bronne: enca.com, iol.co.za,
Die gewilde komediant en TV-aanbieder Emo Adams het pas die musiekvideo uitgereik vir sy splinternuwe liedjie, Lekker Lippe Klap! Ons het die sanger ’n bietjie daaroor gaan pols.
Waar en wanneer is die musiekvideo geskiet?
So twee maande gelede op verskillende plekke, soos op die dak van die Tygervallei-sentrum in Kaapstad, ‘n ondergrondse parkeerplek en in die pakhuis van Henties-sap!
Wat was die inspirasie vir die musiekvideo?
Dis eintlik so ’n ongewone storie. Ons wou eintlik ’n liedjie vir ’n Henties-advertensie voorstel, toe besluit ons om liewer ’n hele liedjie op te neem. Toe sê Henties ons kan die advertensie en die musiekvideo skiet.
Het jy die liedjie self geskryf?
Nee, nee, nee! Die fantastiese sanger en my vriend Pierre Russouw het dit geskryf.
Is dit die eerste keer dat jy saam met die rapper Early B werk?
Dis die eerste keer dat ons saam aan ’n liedjie werk, ja. Ons het wel verlede somer saam getoer.
Ons sien jou skoonsuster Sheree-lee speel die hoofrol in die video. Hoe het dit gebeur?
Daar was ander opsies, maar die meisie wat ons oorspronklik wou gehad het, het ’n bietjie te jonk op die kamera gelyk, toe moes ons Sheree-lee op die nippertjie vra of sy kon instaan. Ons het soveel pret gehad, want ons is albei laf en lag vir dieselfde goed.
Beplan jy om binnekort weer ’n album uit te reik?
Ek dink my sukses tot dusver lê daarin dat mense kaartjies (na my vertonings) koop en waardeer wat ek doen, maar ek sal nie sê nooit weer nie.
Jou gewilde televisieprogram, Jou Show, keer binnekort terug. Wat kan kykers verwag van die jongste seisoen?
Ek moet eerlik wees, die vorige seisoen was nie so sterk nie, want ons het nie kans gehad om dit lekker te maak nie. Maar nou is ek baie trots op die nuwe seisoen: goeie gaste, goeie speletjies en lekker tye van nonsens praat! Ek het dit so baie geniet, my maag was party aande seer gelag!
Kyk hier na Emo se opwindende nuwe video:
Die roerende nuwe musiekvideo vir Joe Foster se enkelsnit In die Reën vir Jou is binne net veertien ure klaar geskiet, vertel die sanger trots.
Hoewel dit klink asof alles in ’n japtrap klaar was, erken Joe dit was geensins kinderspeletjies nie. “Die musiekvideo vertel ’n baie hartseer verhaal vol trane en drama, so saam met die lang ure was dit nogals ’n emosioneel uitsputtende dag,” vertel hy.
Die aktrise Simoné Nortmann verskyn ook in die video.
“Die liedjie sê dat jy in iemand vir wie jy lief is se hartseer en pyn sal staan asof jy in die reën staan,” vertel Joe oor sy liedjie. “Dis asof jy in hul trane staan en beloof dat elke noot en woord en melodie oor hom of haar gaan.”
Huisgenoot reik vandag eksklusief die musiekvideo uit:
In Die Reën Vir Jou is ook op Joe se album Hartklank beskikbaar, maar is spesiaal vir die musiekvideo en radiostasies verwerk.
Joe, wat aan hoogtevrees ly, sê die laaste toneel van die video het vir groot humor gesorg omdat dit op die dak van ’n huis verfilm is. Hy was baie bekommerd elke keer as Simoné of iemand anders waaghalsig geraak het. “Ek was soos Pappa Beer wat die hele span die heeltyd van die kant van die dak af probeer weghou het,” vertel hy laggend.
Die video is in ’n huis in Pretoria verfilm tussen nege uur die oggend en elfuur die aand. Vir Simoné was Joe die “sweetste mens wat jy in jou hele lewe sal ontmoet”.
“Hy is vriendelik en professioneel en laat mens so op jou gemak voel. Ons het lekker gelag en lekker gehuil.”
Al is sang nie noodwendig haar forte nie, het sy dit in ’n stadium oorweeg om musiekteater te studeer.
Sy sê sy sien vreeslik uit na Huisgenoot se Vir die Voëls-fliek wat 25 November 2016 uitgereik word waarin sy die vroulike hoofrol soeel. “Ek tel die dae af,” vertel sy trots.
Vir meer inligting oor alles waarmee Joe hom besig hou, besoek gerus sy webwerf.
Die Afrikaanse rapper, Snotkop se jongste treffer Hoe Lykit! se musiekvideo, het dalk binne ’n week die 100 000-kerf op YouTube gehaal, maar die kritiek loop hoog en selfs die TV-base voel glo dié stoute video is veels te gewaagd vir die klein kassie.
“Ohhhh, lekker commin. Julle altwee se ouers is seker so trots!!!!” het Velani Venter op YouTube oor Snotkop en die model in die video geskryf. Baie reken die snit en video is alles wat verkeerd is met Afrikaanse musiek.
Dié video, wat met ’n blonde vrou se bultende en wippende borste in ’n skamele bikini begin, laat inderdaad deurgans nie veel aan die verbeelding oor nie.
Maar Snotkop, oftewel Francois Henning, kan nie verstaan waaroor die bohaai gaan nie.
“Ja, dit is deur elke TV-stasie afgekeur, maar elke Afrikaanse musiekvideo is deesdae net borste en boude, hoe dan nou? Gaan mense dan nie eens strand toe nie!” het hy aan Huisgenoot gesê oor bewerings in ‘n aanlyn JacarandaFM-berig dat die video “te stout” is vir televisie.
Snotkop vertel hy was nog nooit bang om waaghalsig te wees en die grense te verskuif nie.
“Mense weet ek was nog nooit preuts nie,” het die berugte stoutseun in die bedryf aan Huisgenoot gesê.
“Suid-Afrikaners hou mos van bietjie lyf, braai en bier,” skerts hy.
Die model is juis nie skaam om lyf te wys terwyl sy onder meer ’n stewige dubbelkajuitbakkie was, in ’n swembad bier tussen haar borste gooi of ’n vars plaasbrood en die gleuf van haar welbedeelde buuste met stroop smeer nie.
Ons wou weet: Hoe hanteer hy die kritiek?
“Dit is soms moeilik, maar ek is darem al lank in die game, 20 jaar. ’n Mens moet dikvellig wees. Dit is nie net aanhangers wat die video gekyk het nie, dit is ook internet trolls, wat niks goed oor enigiets te sê het nie. Darem is die video al meer as 100 000 keer gekyk, dit sê iets!
Louis du Plessis, Snotkop se bestuurder, het dit beaam.
“Snotkop is al lankal nie meer nét die stoutgat-seun van die bedryf nie,” vertel hy.
Snotkop het baie sukses met sy meer ernstiger en rustiger snitte soos Song vir my dad en Cool soos Koos Kombuis, vermag.
“Vier of vyf jaar gelede sou geen haan gekraai het nie, toe het dit nog by Snotkop se image ingepas,” meen hy.
Louis is verbaas dat die video vir televisie afgekeur is.
“Hulle hoef dit mos nie tussen 7de Laan en die nuus te speel nie! Ek dink elkgeval nie dit is so suggestief of seksueel soos wat hulle dit nou wil uitmaak nie.”
KYK DIE VIDEO HIER (MAAR PASOP, DIS NOGAL WILD!):
Vir die eerste keer in Elvis Blue se sangloopbaan het iets op die verhoog met hom gebeur wat hy nie geweet het hoe om te hanteer anders as om net te begin lag nie.
“Dit was skreeusnaaks, nè. Baie sleg!” het hy aan Huisgenoot gesê.
Elvis toer tans die land warm en het Donderdagaand in Pretoria by Die Blou Hond-teater voor ’n stampvol saal opgetree.
Iewers in die middel van sy vertoning het hy die liedjie Lighthouse van sy album Elvis Blue begin sing.
“Lighthouse is nogal ’n baie emosiebelaaide, diep lied, so dit kon nie op ’n slegter tyd gebeur het nie,” vertel Elvis.
Terwyl hy op die klawerbord gespeel het, het die staander ingegee en die klawerbord het op die vloer geval.
“Die staander het net daar besluit om in te gee en ’n #keyboardsmustfall vibe uitgestuur,” grap hy.
“Dit was die snaakste ding wat nog op die verhoog met my gebeur het. Ek het net begin lag, maar dit was sleg. Gelukkig was die gehoor so ongelooflik; hulle het saam gelag.”
Elvis het gou ’n ander staander gekry, maar het intussen met die vertoning aangegaan.
“’n Mens kan die meeste goed hanteer wat op die verhoog gebeur. Maar dinge soos dié is soos jou broek wat op die verhoog afval. Jy kan niks anders doen as om te begin lag nie.
Huisgenoot se assistentredakteur Pieter du Toit was by die vertoning om Elvis se komiese reaksie vas te vang:
RymStoff se eerste enkelsnit, Hartvlinders, het groot opslae gewek toe dit vroeër vanjaar uitgereik is. Dit kom uit die pen van die sanger en liedjieskrywer Vaughan Gardiner.
Hier is die groep se eerste musiekvideo, maar vir een van hul ander treffers Hand aan Hand.
Maar wie is hulle?
Christoff de Beer, ’n oud-Puk en hoofkitaarspeler van Kurt Darren se orkes, was kortliks lid van Adam, maar Kyle Grant het eindelik by dié groep ingesluit. En die voormalige
Rustenburger Raymond Ray, die ander lid van RymStoff, sê “geloof en talent kan vir ’n mens baie deure oopmaak”.
RymStoff het pas hul eerste album uitgereik.
1. Wat beteken die naam?
Christoff de Beer (CdB): Raymond en Christoff saam gee jou die naam RymStoff.
Raymond Ray (RR): Die naam “RymStoff” is ’n kombinasie van Raymond en Christoff.
2. Hoekom het julle besluit om ’n boy band te vorm?
CdB: Ek en Raymond wou die musiekbedryf nog altyd as onsself betree. Ons wou dit nog altyd geniet om musiek te maak en dit as ’n voltydse loopbaan volg. Christoff hou glad nie daarvan om alleen op te tree nie en Raymond is die regte “wingman“.
RR: Ons is ‘n sangpaar; ’n boy band bestaan uit minstens vier ouens en hulle doen tot die uiterste danspassies. Ons bespeel instrumente en doen net af en toe ’n passie of twee.
3. Wie het ’n groot invloed op julle?
CdB: Albei van ons is groot Bon Jovi-aanhangers. Jon is ’n ongelooflik goeie liedjieskrywer en musikant.
RR: Bon Jovi en die countrysanger Keith Urban. O ja, en ook Jason Statham, die akteur.
4. Waarna kan aanhangers uitsien?
CdB: Ons vertonings is ongelooflik, want ons glo mense luister met hul oë en ore na musiek.
RR: Ons skryf self en het ’n verskeidenheid liedjies; nie een klink dieselfde nie. Ons hou dit ook interessant deur dit met sterk melodieë te kombineer. By ons vertonings sal jy sien ons is passievol en ons wil ons aanhangers net die beste gee.
5. Hoe oud is julle?
CdB: Ek is 28.
RR: Ek is 32.
6. Wat doen julle vir pret?
CdB: Ek skryf musiek en speel so dan en wan gholf wat niemand as gholf sal kan beskryf nie . . . eerder net kuier.
RR: In ons af tyd speel ons speletjies of kuier saam met vriende en familie.
7. Waar het julle mekaar almal ontmoet?
CdB: Ek het Raymond in die Barnyard-teater gesien en dadelik geweet dié ou is die regte man vir die Rym in RymStoff. Ons het dadelik as ’n span gekliek en nog nie een oomblik teruggekyk nie.
RR: Christoff en Hugo Ludik stap al ’n paadjie saam en hulle het besluit om ’n sangduo te begin. Hugo het my by die Barnyard-teater raakgeloop en gevra of ek daarin sou belangstel.
8. Wat maak julle anders?
CdB: Ons musiekstyl verskil van ander Afrikaanse popmusiek en ons probeer nie iets wees wat ons nie is nie. Tydens vertonings sien jy die regte Christoff en Raymond. Ons musiek kom uit ons hart.
RR: Christoff is ’n onderwyser en ek tree tans in Barnyard-teaterproduksies op. Tussendeur skryf ons musiek.
Vir tien jaar kry die akoestiese musiekgroep Kaleidoskoop dit reg om die harte van musiekaanhangers regoor die land te verower.
En ter viering van ’n suksesvolle dekade, het hierdie Huisgenoot Tempo-bekroonde en Ghoema-genomineerde sang-duo pas ’n nuwe verwerking van Billie Jean uitgereik.
Buiten vir die talle benoemings, toekennings en radiotreffers op hulle kerfstok, geniet Kaleidoskoop se musiekvideo’s ook groot sukses op YouTube waar hul liedjie Vars Uitgekerf al meer as 77 000 keer gekyk is, terwyl Roadtrip reeds meer as 44 500 kykers bereik het.
Hoe het julle mekaar ontdek?
Anique: Ons is beide oud-Maties en het op Universiteit ontmoet. In 2006 het Jouba reeds Kaleidoskoop gestig saam met Gerhard Liebenberg, ’n koshuisvriend, en ek het in ons koshuis se sêr-groep gesing.
Jouba het my genooi om ’n vertoning te kom kyk en ek het ’n CD gekoop (en óp geluister). Daarna het hy gehoop ek ken so half die liedjies en het hy my gevra om in te staan vir een van die lede wat moes toets skryf een aand tydens ’n vertoning.
Wat is een van jul gunsteling-liedjies om op te tree en hoekom?
Moedersmelk is ’n liedjie van ons eerste album Platsak, maar het steeds soveel trefkrag. Dit het ’n positiewe boodskap – veral vir ons land, en ons voel dis relevant in vandag se tyd. Dis lekker om te sien hoe sommige mense in die gehoor die woorde saamsing en die lirieke geniet.
Loop musiek in julle families?
Anique: My pa en ma stry altyd oor hierdie een. My ma beweer sy het ’n tannie van haar oupa (of iemand vêr) wat in Buckingham paleis musieklesse gegee het (dis glo waar).
My ouma aan my pa se kant was die orrelis in die kerk en ook baie musikaal. So hulle albei maak aanspraak op waar die musiek-talent vandaan kom…
Jouba: My oupagrootjie aan my pa se kant was lief vir sing en kitaarspeel. My oupa aan my ma se kant kon ook ’n paar musiek-instrumente speel. My sussie is ‘n musiekonderwyseres, so dit loop seker maar êrens in die are.
Hoe werk die skryfproses as meer as een persoon aan ’n liedjie skryf?
Ons skryf maar elkeen op ons eie. Ons sal wel toelaat dat die een die ander se lied skaaf deur voorstelle te maak rakende harmonieë en melodie-lyne, maar die keuse bly steeds by die skrywer van die lied om dit te gebruik of nie.
Wie bewonder julle in die bedryf en hoekom?
Laurika Rauch. Sy is een van ons albei se kinderheldinne en haar liedjies wakker baie nostalgie en soveel emosies in ons aan. Sy is na al die jare in die bedryf nog net wie sy is; getrou aan haarself en haar musiek-styl. Ons bewonder ook haar nederigheid en warmte as mens.
Het julle al enige snaakse oomblikke op die verhoog gehad?
Anique: Een aand in Stilbaai het ek reeds die inleiding begin speel toe ek sien Jouba klap iets rondom sy nek. Hy het ’n rukkie stilgesit, toe spring hy op, ruk sy ingesteekte hemp uit sy broek en skud verwoed. Hy gaan sit weer doodrustig en wag om sy kitaar op die regte plek te begin speel, maar ek weet ek het niks by sy hemp sien uitval nie.
Iewers skuil daar ’n ses-poot tydbom.
Ek begin weer die inleiding van voor af en my oog vang Jouba se hand wat van buite af iets in sy broekspyp vang. Ek sien hoe probeer hy hom dooddruk teen sy knie net om drie sekondes later die ding weer – dié keer ’n bietjie hoër teen sy been op – te stop!
Net voor ek begin sing hoor ek Jouba val heeltemal te vroeg in. Nie eers met sy kitaar soos hy moet nie, sommer met sy stem: “Nee, skuus julle. Ek moes nou eers die ding gaan uitgooi!” En hy hardloop tot die gehoor se vermaak agter ’n bos in, trek sy broek uit en laat die stomme koringkriek vry!
Wat was die vreemdste ding wat julle al beleef het terwyl julle optree?
Ons moes al deur ’n karate-klas se geskree probeer sing wat besig was om onder die verhoog aangebied te word in Oos-Londen.
Enige snaakse aanhanger-oomblikke?
Iemand het by een van ons vertonings by die KKNK herhaaldelik vir “Kaptein” gevra terwyl ons sing. Hy was duidelik nie ’n groot “aanhanger” nie.
Wat sal aanhangers verras om te weet van julle?
Jouba het ’n liefde vir houtwerk en het vir amper 4 jaar gepraktiseer as ’n gekwalifiseerde wynmaker voor hy musiek as beroep gekies het. Hy het ook eers in sy eerste jaar begin kitaar speel.
Anique het op 11 haar balletklasse verruil vir sanglesse en is ’n laatlam van 13 en 15 jaar na haar broer en suster. Sy het op 4 jarige ouderdom haar eerste klavier-konsert gegee by Rawsonville se kerk-basaar en het haar eerste instrumentele liedjie, “The Palace”, geskryf op 6.
Terwyl die uitverkore groepie aanhangers Jägermeister en Fokof-bier wegslaan, verkies die ster van die aand om water te drink.
“Julle moet baie bier drink, want ek gaan dit nie drink nie,” het Francois van Coke geskerts voor hy vir die eerste keer opgetree het sedert sy babadogtertjie, Alex Lila Badenhorst, op 7 November gebore is. Hy is ’n baie trotse nuwe pappa.
“Dat ’n liedjie soos Mensdom uitkom in die week dat Donald Trump president van Amerika word en die albumomslag is pienk en ek het nou net ’n dogtertjie gehad, crazy . . .” sê hy voor hy die nuwe enkelsnit, Mensdom, in die Red Bull Studios in Breestraat, Kaapstad, vir die eerste keer voor ’n gehoor sing.
Hierdie is die lewe / ons word gebore / ons gaan dood / kwaad oor die verlede / mens in beheer / mens hanteer / Mensdom / Ons raak nie jonger nie . . .
Die ander liedjie op die mini-album wat die gehoor tydens die optrede kry, Klein Prys, is ’n ode aan Fokofpolisiekar wat sy bekendheid die sterrehemel ingestuur het:
Dit moes êrens begin / net ’n kans gewaag / groot drome gerook onder groot bome . . . paar drankprobleme is mos niks tussen vriende / slagoffer van vryheid / dis ’n familiereünie / op die verhoog saam met my vriende.
Wynand Myburgh en Jaco “Sneakhead” Venter, die enigste van die Polisiekarre se bende wat nog nie pa is nie, was daar om die bekendstelling van Francois se nuwe album by te woon.
“Ek gaan nie lank bly nie,” sê Francois. Hy kan nie wag om terug te kom by sy vrou, Lauren Badenhorst, en hul nuwe babadogtertjie nie.
Donderdag was dit die eerste dag dat hulle uit die hospitaal terug by die huis was. Hy wys trots ’n foto op sy selfoon.
In April verlede jaar nog het hy in ’n onderhoud met Huisgenoot gesê daar is sprake van ’n pienkvoet.
“Maar daar is nog nie enige babas op die horison nie. Ek het op die oomblik my hande vol met ons hond.”
Dis die beroemde bulhond wat byna meer aanhang op Instagram het as hy, het Francois geskerts.
Die baba gaan seker nog iets wees waaraan hy gewoond moet raak, Maar nou-nou het Lauren ’n foto gestuur van haar en Alex op die bed met Ringo wat rustig onder op die mat lê.
“Dit lyk my asof hulle vriende gaan wees,” lag hy.
Een van die sterre van die Afrikaans is Groot-konsertreeks is keelvol vir mense wat sonder enige agtergrondkennis of kennis van die musiekbedryf kritiseer en haar en haar mede-kunstenaars slegsê.
“Maar ek het oor die jare hierdie advies van my ma nooit ooit vergeet nie, en daarmee saam besef dat mense partykeer uit absolute onkunde dinge kan kwyt raak, bloot oor hulle nie die feite ken nie (sic),” het Corlea Botha laat Maandagaand in ’n baie lang Facebook-inskrywing op haar Facebook-blad gesê.
“Hierdie laaste paar dae het ek dit op ’n ander vlak ervaar . . . (sic)”
Volgens Corlea gaan daar baie harde werk in die produksie in en sy gee in haar inskrywing ook ’n blik op wat agter die skerms gebeur. “Daar is van ons wat baie goeie vriende is, daar is van ons wat nooit met mekaar praat nie – dis die reine waarheid. Maar waar een ding nou nie twee is nie, is dat ons almal glo in hierdie ongelooflike produksie wat Afrikaans Is Groot is.”
Volgens Corlea bied die konsertreeks kunstenaars ’n geleentheid om hul eie handelsmerk op te bou. Boonop kry die kunstenaars ook kans om insette te lewer.
“Afrikaans Is Groot vier elke liewe kunstenaar se identiteit en streef daarna om elkeen se oomblik in die kollig op die beste moontlike manier ten toon te stel. Ek bewonder die span wat elke jaar daarin slaag om dit op so ’n massiewe platform aan te bied!
“Ons as kunstenaars word ook die geleentheid gegee om insae te hê in liedjiekeuses, beligting, kostuums, dansers ensomeer. Dis ’n voorreg om deel te wees van so ’n proses!
“Ons werk saam met die span om ons eie brand te bou, maar ook dié van die vertoning. Partykeer kom ons met mal voorstelle. Partykeer werk dit, ander kere nie. Maar dis ’n spanpoging, for the greater good of the concert. Ons almal besef ook dat nie almal met elke liewe liedjie en element gelukkig gaan wees nie – dis vanselfsprekend. Maar dit is mos soos hulle sê: Mense sal jou 100 goeie dade miskyk en die een onthou wat hulle teleurgestel het.”
Corlea sê in haar inskrywing mense wat dalk nie van een of twee van die liedjies gehou het nie, moenie ander mense afraai om die konserte te gaan kyk nie.
“Jy kan nie vir ander mense besluit nie!”
Sy skryf verder: “Dit het ons almal baie jare se bloed, sweet en vrek harde werk gekos om daardie sukses te bereik – ek vra julle mooi, moenie uit bitterheid en absolute onkunde kritiek en kommentaar gaan los en ander mense opsweep nie. Julle breek in twee minute, van agter ’n naamlose profiel, ’n nalatenskap af wat ons oor jare opgebou en voor gewerk en baklei het!”
Lees haar volledige inskrywing hier:
Corlea se aanhangers wat op haar inskrywing gereageer het, het haar geprys omdat sy haar stem dik gemaak het. Hulle was ook vol lof vir vanjaar se Afrikaans is Groot-produksie.
Net wanneer jy dink Die Campbells het alles bereik, met verkope van meer as 800 000 eenhede en verskeie toekennings, dan doen hulle dit weer!
Suid-Afrika se gunsteling-sangpaar is terug met nog ’n treffer: Bloed Is Dikker As Water. En Huisgenoot deel ekslusief die eerste voorsmakie van die musiekvideo!
Bloed is Dikker As Water is deur beide Die Campbells en die bekende Afrikaanse sanger en liedjieboer Gerhard Steyn geskryf.
Hul nuwe album is nou reeds landwyd op winkelrakke beskikbaar.
Hy’s ’n ou bekende op Jacaranda FM en hou al ’n geruime tyd ook sy lyf aanbieder op die gewilde VIA-program Wie’s My Liefie? Nou spog Martin Bester ook met sy eerste soloalbum, Vir die Eerste Keer.
En Huisgenoot stel vandag eksklusief die omslag van die album bekend:
“Ek is vreeslik trots op die album,” vertel Martin aan Huisgenoot. “Dis my eerste Afrikaanse album en ek wou dit al lankal opneem.
“Maar ek glo alles gebeur wanneer dit moet en nou is die regte tyd om dit uit te reik.” Vir die Eertse Keer is van 18 November af beskikbaar.
Die gewilde omroeper vertel elke liedjie op sy album spog met sy eie storie, “en ek is lief vir elkeen”.
“Daar is liedjies op wat jou gaan laat dans, dink, saamsing, verlang, die langpad gaan laat vat en boonop sommer die stofpaaie.”
Martin het reeds vroeër vanjaar die enkelsnit Ou Spoor uitgereik en dit het gou die trefferlyste geklim.
Verlede jaar het Martin sy eerste Afrikaanse liedjie, Wat Weet Ek Tog, uitgereik.
“Vir die Eerste Keer is ’n droom wat waar geword het,” sê hy.
Buiten sy sang en stemwerk bied Martin natuurlik ook die gewilde maatsoekprogram Wie’s My Liefie? op VIA aan. Hy sê dis vir hom lekker wanneer hy mens bymekaarbring en hulle besluit om saam op ’n tweede afspraak te gaan.
“Daardie eerste drukkie tussen twee deelnemers is vir my baie spesiaal. Ek hou daarvan om hul reaksies dop te hou.”
En wat is sy raad aan mense wat liefde soek? “Elke pot het ’n deksel. Jy kan net nie altyd in behee wees van die tydsberekening nie, maar dit sal gebeur wanneer dit moet.”
Wie’s My Liefie? keer 6 Januarie 2017 terug na VIA. As jy op soek is na liefde, kan Martin jou dalk net help.
VIA soek enkellopende, Afrikaanse deelnemers wat woon in Gauteng. Jy moet beskikbaar wees om episodes in Johannesburg te verfilm. Om in te skryf, stuur ’n e-pos na liefie@urbanbrew.co.za.
Sowat twee maande gelede het die gewilde sanger Pieter Koen omtrent ’n opskudding veroorsaak met sy aansteeklike enkelsnit Boobs, Boude, Bene wat baie goed deur sy aanhangers ontvang is.
Trouens, die ietwat omstrede musiekvideo daarvoor is al deur meer as 46 000 mense gekyk.
In totale teenstelling met daardie tong-in-die-kies-treffer, het Pieter pas die musiekvideo uitgereik vir sy roerende snit, ’n Man Kan Ook Huil.
Die video gaan oor ’n man en vrou wie se kind ernstig siek is. “Hulle sukkel finansieel, maar besef op die ou end geld is nie belangrik nie; die liefde en steun by die huis is wel,” vertel Cindy Swanepoel, wat teenoor Hykie Berg in die video verskyn.
Pieter se seun Jayden (8) verskyn as Hykie en Cindy se siek kind in die video.
Die video is onlangs in Mooikoof, Pretoria, geskiet. ’n Man Kan Ook Huil, Boobs, Boude en Bene en tien ander treffers word ingesluit op Pieter se nuwe album, Kan Nie Vra Vir Meer, wat nou beskikbaar is.
Kyk hier na die video vir ’n Man Kan Ook Huil:
Suid-Afrikaners is dik die josie in vir die Springbokke. Dit weet ons. Die bok bloei en niemand het hoop vir volgende naweek se wedstryd teen Wallis nie.
En hoewel ons almal vinnig in die sosiale media ons misnoeë uitgespreek het teenoor die swak spel teen Italië, het die sanger Pierre Rossouw besluit om ’n liedjie te skryf oor die wedstryd.
“Ek was regtig net bietjie onsteld oor ons deesdae so sukkel om wedstryde te wen,” vertel Pierre wat in 2012 die sangkompetisie, Ons Soek die Sanger, gewen het.
“Ek het gedink ek sal so bietjie humor inbring.
“Ek het nie meer as vyf minute aan die liedjie spandeer nie.”
Hy sê hy het die liedjie dadelik opgeneem om stoom af te blaas, op Facebook geplaas en toe gaan slaap.
Kyk hier na sy video: